bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans (NLV) 2011
/
Psalms 74
Psalms 74
Afrikaans (NLV) 2011
1
Waarom, o God, verstoot U ons so lank? Waarom is U so kwaad vir hulle wat aan U behoort?
2
Dink tog aan u gemeente wat U lank gelede gekies het, die volk gekoop as u eie erfenis, Sionsberg, waar U gewoon het.
3
Kom loop tog gou tussen die puin van lank gelede, die puin van u heiligdom wat die vyand verwoes het.
4
Daar het die oorwinningskrete van u vyand weerklink, hulle vyand het gevegsbaniere opgerig.
5
Dit was asof mense, met byle omhoog, bome afkap in ’n digte bos.
6
Al die houtsneewerk het hulle nou met byle en koevoete verpletter.
7
Hulle het u heiligdom verbrand, die woonplek van u Naam tot op die grond ontheilig.
8
Hulle sê vir mekaar: “Laat ons alles vernietig!” Toe verbrand hulle elke plek in die land waar God vereer is.
9
Ons sien nie wondertekens nie; daar is geen profeet meer nie; en niemand by ons weet vir hoe lank nie.
10
Hoe lank, o God, sal ons vyande U bespot? Hoe lank sal hulle u Naam vir altyd beledig?
11
Hoekom hou U u regterhand terug? Steek uit u hand en vernietig hulle!
12
U, o God, is van lankal af my koning, U bring redding op die aarde.
13
Deur u krag het U die see verdeel, die koppe van seemonsters in die water vermorsel.
14
Die koppe van die Leviatan het U verpletter. U het hom as kos vir die woestyndiere gegee.
15
U laat fonteine en strome vloei, en standhoudende riviere opdroog.
16
Selfs dag en nag behoort aan U; U het die son en maan gemaak.
17
U het die grense van die aarde bepaal, somer en winter het U gemaak.
18
Dink tog, o Here, hoe die vyand U bespot, hoe ’n dwase volk u Naam belaster.
19
Moenie die lewe van u duiwe aan wilde diere gee nie. Moenie u verdrukte volk vir altyd vergeet nie.
20
Kyk tog na u verbond, want tot in die donkerste hoekies is die aarde vol geweld!
21
Moenie dat die verdrukte in skande omdraai nie. Laat die behoeftiges en armes u Naam liewer prys.
22
Staan op, o God, en verdedig u saak. Onthou hoe dwase mense U die hele dag beskuldig.
23
Vergeet nie die geraas van u vyande, die lawaai van u teenstanders wat voortdurend opgaan nie.
← Chapter 73
Chapter 75 →