bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
/
Psalms 51
Psalms 51
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
1
Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid.
2
Toe die profeet Natan na hom gegaan het nadat hy met Batseba omgang gehad het.
3
Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde; wis my oortredings uit volgens u groot ontferming.
4
Was my heeltemal skoon van my sondeskuld en reinig my van my sonde
5
want ek is deeglik bewus van my oortredings en my sonde is voortdurend voor my.
6
Teen U, teen U alleen, het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U gelyk sal hê as U uitspraak lewer, volkome reg wanneer U oordeel.
7
Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het.
8
Kyk, getrouheid verwag u reeds in die moederskoot, in die verborgenheid leer U my wysheid.
9
Neem my sonde weg met marjolein sodat ek rein kan wees, was my, dan sal ek witter as sneeu wees.
10
Laat my weer uitroepe van vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente wat U verbrysel het, juig.
11
Sluit u oë vir my sonde, en al my sondeskuld, wis dit uit!
12
Skep 'n rein hart vir my, o God, vernuwe 'n bestendige gees in my binneste.
13
Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u •heilige Gees nie van my wegneem nie.
14
Laat my weer die vreugde oor u verlossing ervaar, laat 'n gewillige gees my ondersteun.
15
Ek wil oortreders u paaie leer, dat sondaars na U kan terugkeer.
16
Red my van bloedskuld, o God, God wat my verlos, laat my tong juig oor u geregtigheid.
17
My Heer, maak my lippe oop en my mond sal u lof verkondig.
18
U vind immers geen vreugde in slagoffers nie, anders sou ek dit gee; •brandoffers aanvaar U nie.
19
Offers aan God is 'n gebroke gees, 'n gebroke en verpletterde hart sal U, o God, nie minag nie.
20
Doen volgens u wil goed aan Sion, herbou die mure van Jerusalem.
21
Dan sal U vreugde vind in offers van geregtigheid – brandoffers en volledige offers – Dan sal daar op u altaar jong bulle geoffer word.
← Chapter 50
Chapter 52 →