bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
/
Psalms 139
Psalms 139
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
1
Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. Here, U ondersoek my en U ken my.
2
U is die een wat my sit en opstaan ken; U verstaan van ver af wat ek in gedagte het.
3
My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend.
4
Ja, daar is nog nie 'n woord op my tong nie, kyk, dan ken U, Here, dit volledig!
5
Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my.
6
Om dit te verstaan, is 'n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie.
7
Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid?
8
Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die •doderyk – ook daar is U!
9
Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see;
10
ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou.
11
En al sê ek, “As duisternis my maar net wil verberg en die lig om my nag word”,
12
is selfs duisternis nie vir U donker nie, maar skyn nag so lig soos die dag, is die duisternis soos die lig.
13
Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het.
14
Ek prys U omdat ek op 'n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed.
15
My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde.
16
U oë het my vormloosheid gesien. En in u •boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.
17
En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan!
18
As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U.
19
As U, o God, goddeloses maar wou ombring! Manne wat bloed vergiet, gaan weg van my af!
20
Dit is hulle wat valshede oor U verkondig, u vyande wat die stem tevergeefs verhef.
21
Sou ek u haters nie haat nie, Here, in hulle wat teen U opstaan, nie 'n weersin hê nie?
22
Ek haat hulle met 'n intense haat; vyande het hulle vir my geword.
23
Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes.
24
Kyk of ek nie op 'n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.
← Chapter 138
Chapter 140 →