bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
/
Psalms 119
Psalms 119
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
1
Gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg!
2
Gelukkig is hulle wat hou by sy bepalings, wat Hom met hulle hele hart soek;
3
wat ook nie onreg pleeg nie, maar net sy paaie volg!
4
U het self u opdragte gegee, sodat mense dit noukeurig sal nakom.
5
Ag, was my lewenspaaie maar standvastig, sodat ek u voorskrifte kon nakom.
6
Dan sal ek nie beskaamd staan, terwyl ek op al u bevele let nie.
7
Ek prys U met 'n opregte hart terwyl ek u regverdige beslissings bestudeer.
8
U voorskrifte sal ek nakom; moet my tog nooit in die steek laat nie.
9
Hoe sal 'n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woord.
10
Met my hele hart soek ek U; laat my tog nie afdwaal van u bevele nie.
11
In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie.
12
U moet geprys word, Here! Leer my u voorskrifte!
13
Met my lippe vertel ek van al die beslissings van u mond.
14
Oor die pad van u bepalings is ek verheug soos oor enige rykdom.
15
Oor u opdragte wil ek nadink; ek wil op u paaie let.
16
In u voorskrifte vind ek vreugde; ek sal u woord nie vergeet nie.
17
Wees goed vir u dienskneg, dan kan ek lewe en u woord nakom.
18
Maak oop my oë, sodat ek die wonders uit u wet kan raaksien.
19
Ek is 'n •vreemdeling op aarde; moet u bevele nie vir my verborge hou nie.
20
My lewe kwyn die hele tyd weg van verlange na u beslissings.
21
U bestraf vermeteles, die vervloektes, hulle wat van u bevele afdwaal.
22
Verwyder bespotting en minagting van my, want by u bepalings hou ek.
23
Selfs al sit leiers met mekaar en praat oor my – u dienskneg sal oor u voorskrifte bly nadink.
24
Nog steeds is u bepalings my grootste vreugde; hulle is my raadgewers.
25
My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord.
26
Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte.
27
Die pad van u opdragte – laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink.
28
My lewe vloei weg van verdriet; rig my op volgens u woord.
29
Die pad van bedrog – neem dit van my weg; en u wet – gee dit genadiglik vir my.
30
Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë.
31
Ek hou aan u bepalings vas; Here, laat my nie beskaamd staan nie.
32
Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig.
33
Here, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou.
34
Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom.
35
Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde.
36
Laat my hart na u bepalings neig, en nie na winsbejag nie.
37
Wend my oë daarvan af om na nuttelose dinge te staar; hou my lewend op u paaie.
38
Doen u woord gestand aan u dienskneg – u woord wat ontsag wek vir U.
39
Neem die bespotting wat ek vrees van my weg, want u beslissings is goed.
40
Kyk, ek verlang na u opdragte; hou my lewend deur u •geregtigheid.
41
Laat u troue liefde my deel word, Here, u verlossing volgens u woord,
42
sodat ek my spotter kan antwoord; want ek vertrou op u woord.
43
Moet tog nie u betroubare woord geheel en al uit my mond wegneem nie, want ek vestig my hoop op u beslissings.
44
Ek wil u wet voortdurend nakom, vir altyd en ewig.
45
Ek wil in hierdie wye ruimte voortbeweeg, want u opdragte ondersoek ek.
46
Ek sal oor u bepalings voor konings praat sonder om my te skaam.
47
Ek vind vreugde in u bevele wat ek liefhet;
48
ek reik uit na u opdragte wat ek liefhet; ek dink na oor u voorskrifte.
49
Dink aan u woord aan u dienskneg waarmee U aan my hoop gegee het.
50
Dit is my vertroosting in my ellende, dat u belofte my lewend hou.
51
Vermeteles het my tot die uiterste toe gespot, maar van u wet het ek nie weggedraai nie.
52
Ek het u beslissings onthou, van lank gelede af, Here, en ek was getroos.
53
Woede het my beetgepak oor goddeloses – hulle wat u wet verlaat.
54
Maar u voorskrifte was vir my liedere in 'n plek waar ek 'n vreemdeling was.
55
Ek het u Naam in die nag onthou, Here, en ek het u wet nagekom.
56
Dit het deel geword van my – dat ek by u opdragte hou.
57
U, Here, is my deel, ek het onderneem om u woorde na te kom.
58
Ek het met my hele hart u guns gesoek: Wees my genadig volgens u belofte.
59
Ek het my paaie bedink en my voete teruggebring na u bepalings.
60
Ek het my gehaas en nie getalm om u bevele na te kom nie.
61
Die toue van goddeloses het my omstrengel, maar u wet het ek nie vergeet nie.
62
In die middel van die nag staan ek op om U te prys oor u regverdige beslissings.
63
Ek is 'n vriend van almal wat vir U ontsag het, en u opdragte nakom.
64
Here, u troue liefde vul die aarde; leer my u voorskrifte.
65
U het goed gedoen aan u dienskneg, Here, volgens u woord.
66
Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u bevele.
67
Voordat ek swaar beproef is, was ek aan die dwaal, maar nou kom ek u woord na.
68
U is goed en doen goed; leer my u voorskrifte.
69
Vermeteles het my met leuens beswadder; maar ek, met my hele hart hou ek by u opdragte.
70
Hulle harte is so gevoelloos soos vet, maar ek vind vreugde in u wet.
71
Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer.
72
Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.
73
U hande het my gemaak, my gevestig; maak my verstandig, ek wil u bevele leer.
74
Hulle wat vir U ontsag het, sien my en is bly, want op u woord wag ek.
75
Ek weet, Here, dat u beslissings regverdig is, en dat U my in getrouheid verneder het.
76
Laat u troue liefde tog vir my tot troos wees volgens u woord aan u dienskneg.
77
Laat u ontferming my deel word, sodat ek kan lewe; want u wet is my vreugde.
78
Laat vermeteles beskaamd staan, want sonder rede veronreg hulle my; maar ek sal bly nadink oor u opdragte.
79
Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken.
80
Laat my hart onberispelik aan u voorskrifte hou, sodat ek nie beskaamd staan nie.
81
My •siel smag na u verlossing; op u woord wag ek.
82
My oë smag na u belofte en vra: “Wanneer sal U my troos?”
83
Want ek het geword soos 'n stuk vel vol rook, maar u voorskrifte het ek nie vergeet nie.
84
Hoeveel dae is daar nog vir u dienskneg? Wanneer gaan u die oordeel voltrek oor my vervolgers?
85
Vermeteles het vir my vangkuile gegrawe, hulle wat nie volgens u wet optree nie.
86
Al u bevele is betroubaar, maar hulle vervolg my sonder rede. Help my!
87
Byna het hulle my vernietig hier op aarde, maar ek, ek het u opdragte nie verontagsaam nie.
88
Maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde, sodat ek die bepalings uit u mond kan nakom.
89
Vir ewig, Here, staan u woord vas in die hemel.
90
Van geslag tot geslag duur u trou; U het die aarde gevestig en dit hou stand.
91
Volgens u beslissings hou dit vandag nog stand, want alles is u diensknegte.
92
As u wet nie my vreugde was nie, sou ek in my ellende vergaan het.
93
Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak.
94
Aan U behoort ek; verlos my, want na u opdragte streef ek.
95
Goddeloses wag my in om my te vernietig; op u bepalings slaan ek ag.
96
Ek het gesien aan alle volmaaktheid kom daar 'n einde, maar u gebod is besonder ruim.
97
Hoe lief het ek u wet – die hele dag dink ek daaroor na.
98
U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is altyd daar vir my.
99
Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke.
100
Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek.
101
Van elke slegte pad het ek my voete weerhou sodat ek u woord kon onderhou.
102
Van u beslissings het ek nie afgewyk nie, want dit is U wat my onderrig.
103
Hoe strelend is u woord vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.
104
Uit u opdragte kry ek insig; daarom haat ek elke bedrieglike pad.
105
U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my lewenspad.
106
Ek het 'n eed afgelê – en daarby gehou – om u regverdige beslissings na te kom.
107
Ek is baie terneergedruk; Here, maak my lewend volgens u woord!
108
Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees, Here, en leer my u beslissings.
109
My lewe is voortdurend in my hande; maar u wet vergeet ek nie.
110
Goddeloses het vir my 'n net gespan, maar van u opdragte het ek nie afgewyk nie.
111
Ek het u bepalings as blywende erfporsie ontvang; ja, dit is die vreugde van my hart.
112
Ek rig my hart daarop om u voorskrifte uit te voer – vir altyd, tot die einde toe.
113
Dubbelhartige mense haat ek, maar u wet het ek lief.
114
My skuilplek en my skild is U; op u woord vestig ek my hoop.
115
Gaan weg van my, julle kwaaddoeners, sodat ek by die gebooie van my God kan hou.
116
Ondersteun my, volgens u woord, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie.
117
Onderskraag my, sodat ek verlos kan word; ek wil voortdurend aan u voorskrifte aandag gee.
118
U verwerp almal wat dwaal, weg van u voorskrifte af; want hulle bedrog is misleidend.
119
Soos metaalskuim verwyder U al die goddeloses van die aarde; daarom het ek u bepalings lief.
120
My lyf bewe omdat U vrees inboesem; ja, vir u beslissings is ek vol ontsag.
121
Ek doen wat billik en reg is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie.
122
Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie.
123
My oë smag na u verlossing, na u belofte van •geregtigheid.
124
Handel met u dienskneg volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte.
125
Ek is u dienskneg; gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken.
126
Dit is tyd vir die Here om op te tree – hulle maak u wet kragteloos.
127
Daarom het ek u bevele lief, ja, meer as goud, as suiwer goud.
128
Daarom volg ek alle opdragte oor alles; elke pad van bedrog haat ek.
129
U bepalings is wonderlik; daarom hou ek daarby.
130
As u woorde oopgaan, gee dit lig; dit gee insig aan onkundiges.
131
Met 'n oop mond hyg ek, want ek hunker na u gebooie.
132
Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet.
133
Maak my treë ferm met u woord en laat geen onreg oor my heers nie.
134
Bevry my van onderdrukking deur mense, sodat ek u opdragte kan nakom.
135
Laat die lig van u aangesig oor u dienskneg skyn, en leer my u voorskrifte.
136
Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet nakom nie.
137
Regverdig is U, Here, en u beslissings is reg.
138
U het in •geregtigheid u bepalings uitgevaardig, en in goeie trou.
139
My ywer verteer my omdat my teenstanders u woorde vergeet.
140
U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief.
141
Ek is klein en word geminag, maar u opdragte vergeet ek nie.
142
U geregtigheid is regverdig vir ewig en u wet is betroubaar.
143
Benoudheid en angs het my oorval, maar u gebooie is my vreugde.
144
U bepalings is regverdig vir ewig; gee my insig, sodat ek kan lewe.
145
Ek roep met my hele hart: “Antwoord my, Here, u voorskrifte wil ek onderhou!”
146
Ek roep na U: “Verlos my sodat ek u bepalings kan nakom!”
147
Voor die oggendskemer roep ek al om hulp; op u woorde wag ek.
148
Met oop oë gaan ek elke nagwaak in, sodat ek oor u woord kan nadink.
149
Luister tog in u troue liefde na my stem, Here, hou my lewend volgens u beslissing.
150
Mense wat slinkse planne najaag, kom nader; hulle bly ver van u wet.
151
Maar U, Here, is naby, en al u gebooie is betroubaar.
152
Uit u bepalings weet ek lank reeds dat U dit vir ewig gevestig het.
153
Sien tog my ellende raak en red my, want u wet vergeet ek nie.
154
Behartig my regsaak en verlos my; hou my lewend op grond van u belofte.
155
Verlossing bly ver van goddeloses, want hulle streef nie u voorskrifte na nie.
156
U ontferming is groot, Here; hou my lewend volgens u beslissings.
157
My agtervolgers en teenstanders is baie, maar van u bepalings wyk ek nie af nie.
158
Ek het ontroues gesien en dit het my met weersin vervul dat hulle u woord nie onderhou nie.
159
Sien tog raak dat ek u opdragte liefhet, Here, maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde.
160
Die wese van u woord is betroubaarheid, en elkeen van u regverdige beslissings is vir ewig.
161
Leiers vervolg my sonder rede, maar net vir u woord het my hart 'n heilige vrees.
162
Ek verheug my oor u woord, soos iemand wat 'n groot buit gevind het.
163
Ek haat en verafsku valsheid, maar u wet het ek lief.
164
Sewe keer per dag loof ek U oor u regverdige beslissings.
165
Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet; vir hulle is daar geen struikelblokke nie.
166
Ek vestig my hoop op u verlossing, Here, en ek voer u bevele uit.
167
Ek kom u bepalings na; ja, ek het dit baie lief.
168
Ek kom u opdragte en u bepalings na, want al my paaie lê oop voor U.
169
Laat my klaagroep voor U kom, Here; gee my insig ooreenkomstig u woord.
170
Laat my smeekgebed U bereik, red my volgens u belofte.
171
My lippe laat lofprysing uitstroom, want U leer my u voorskrifte.
172
My tong besing u woord, want al u gebooie is regverdig.
173
Laat u hand my te hulp kom, want ek verkies u opdragte.
174
Ek verlang na u verlossing, Here; u wet is my vreugde.
175
Hou my lewend sodat ek U kan loof en laat u beslissings my help.
176
Ek dwaal rond soos 'n verlore skaap; soek tog u dienskneg. U gebooie vergeet ek immers nie.
← Chapter 118
Chapter 120 →