bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
/
Psalms 10
Psalms 10
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
1
Waarom, Here, bly U so ver staan, waarom verberg U Uself in tye van nood?
2
In hulle hoogmoed agtervolg goddeloses die magtelose. Mag hulle verstrik raak in die sameswerings wat hulle beplan!
3
Ja, 'n goddelose spog oor sy hartsbegeertes, en terwyl hy wins maak, vervloek en verag hy die Here.
4
Die goddelose sê met sy neus in die lug: “God vra nie rekenskap nie; daar is geen God nie” – dit is al sy gedagtes.
5
Sy paaie is altyd voorspoedig. U beslissings is ver buite sy gesigsveld. Hy minag al sy teenstanders.
6
Hy sê in sy hart: “Ek sal nie struikel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie teenspoed sal ervaar nie.”
7
Sy mond is vol vervloeking, bedrog en verdrukking; onder sy tong is gemeenheid en onreg.
8
Naby dorpies lê hy in 'n hinderlaag; in skuilplekke vermoor hy die onskuldige; sy oë is op die loer vir die weerlose.
9
In 'n skuilplek lê hy soos 'n leeu in die ruigte; hy lê die magtelose voor om hom te vang; hy vang die magtelose deur sy vangnet toe te trek.
10
Verpletter krimp die weerlose ineen; hy val in sy mag.
11
Die goddelose sê in sy hart: “God vergeet. Hy hou sy oë toe; Hy sien dit nooit raak nie.”
12
Staan op, Here; God, lig u hand; vergeet die magteloses tog nie!
13
Waarom verag 'n goddelose mens God? Hy sê in sy hart U eis nie rekenskap nie.
14
U sien tog self die moeite en verdriet, U sien dit raak. Deur dit in u hand te gee, laat weerloses dit aan U oor; vir weeskinders is U 'n helper.
15
Breek die arm van die goddelose, ja, eis rekenskap van 'n bose mens oor sy goddeloosheid totdat U niks meer vind nie.
16
Die Here is Koning vir altyd en ewig; nasies verdwyn uit sy land.
17
U het gehoor wat die verdruktes graag wil hê, Here. U versterk hulle harte, U oor luister aandagtig
18
om aan die weeskind en die onderdrukte reg te laat geskied. Niemand sal meer voortgaan om mense uit die land te verdryf nie.
← Chapter 9
Chapter 11 →