bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans 1983
/
Psalms 74
Psalms 74
Afrikaans 1983
1
'n Gedig van Asaf. Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot? Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort?
2
Dink tog aan u gemeente wat U lank gelede u eiendom gemaak het, die volk wat U vir Uself as besitting verkry het, Sionsberg waarop U gewoon het!
3
Kom loop tog deur die plek wat so lank al in puin lê, die heiligdom wat die vyand so totaal verwoes het.
4
Die oorwinningskreet van u vyande het in die plek van samekoms weerklink, en hulle het hulle vaandel daar opgerig.
5
Dit het gelyk soos wanneer iemand met 'n byl bosse skoonkap.
6
Hulle het al die houtsneewerk met byl en koevoet stukkend geslaan.
7
Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek, die woonplek van u Naam tot op die grond afgebreek.
8
Hulle het vir hulleself gesê: “Ons sal alles vernietig.” En hulle het elke plek van samekoms in die land aan die brand gesteek.
9
U openbaar U nie meer aan ons nie, daar is geen profeet meer nie, niemand onder ons wat weet hoe lank dit nog gaan duur nie.
10
Hoe lank, o God, sal ons teëstanders ons nog verneder? Sal die vyand u Naam vir altyd bly belaster?
11
Waarom help U ons nie? Waarom lig U nie u hand op en vernietig die vyand nie?
12
God is van altyd af my koning, dit is Hy wat op die aarde redding bring.
13
Dit is U wat deur u mag die see onstuimig gemaak het, U wat die koppe van die monsters in die see vermorsel het.
14
U wat die koppe van die Leviatan verpletter het en hom vir die haaie gegee het,
15
U wat fontein en stroom laat uitbreek het, U wat standhoudende riviere laat opdroog het.
16
Dit is U aan wie dag en nag behoort, U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het,
17
U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.
18
Dink tog hieraan: die vyand spot met U, Here, 'n barbaarse volk belaster u Naam.
19
Moet tog nie dié wat deur U onderrig is, aan hierdie ondiere uitlewer nie, moet tog nie u verdrukte volk vir goed vergeet nie!
20
Dink tog aan u verbond, want selfs in die uithoeke van die land is daar verdrukking.
21
Moenie dat die verdrukte teleurgestel omdraai nie, red die hulpelose en die arme, laat hulle u Naam prys.
22
Kom tog, o God! Laat geld tog u reg. Dink tog daaraan hoe u eer dag vir dag deur barbare geskend word.
23
Moet dit tog nie ongemerk laat verbygaan nie: die geskreeu van u teëstanders, die aanhoudende rumoer van u vyande.
← Chapter 73
Chapter 75 →