bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans 1983
/
Psalms 139
Psalms 139
Afrikaans 1983
1
Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm. Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
2
Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
3
Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
4
Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
5
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
6
Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.
7
Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
8
Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9
Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste,
10
ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.
11
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander,
12
maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.
13
U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
14
Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:
15
geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
16
U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.
17
Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!
18
As ek hulle sou wou opnoem — hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.
19
As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars!
20
Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree.
21
Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie 'n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie?
22
Ek haat hulle met 'n uiterste haat, want hulle is ook my vyande.
23
Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak.
24
Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!
← Chapter 138
Chapter 140 →