bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
/
Psalms 45
Psalms 45
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
1
Vir die •musiekleier. Op “Narsings”. Van die Koragiete. 'n Maskiel. 'n Liefdeslied.
2
My hart is ontroer deur mooi woorde, ek dra my verse voor aan 'n koning. My tong is die pen van 'n vaardige skrywer.
3
U is mooier as ander mense, guns vloei oor u lippe, daarom seën God u vir altyd.
4
Gord u swaard aan die heup, o held – u majesteit en u luister!
5
Seëvier in u glansrykheid! Trek op ter wille van waarheid, nederigheid en •geregtigheid! Laat u regterhand vir u ontsagwekkende dinge leer.
6
U pyle is skerp in die hart van die koning se vyande; volke val onder u.
7
U troon, o goddelike wese, is vir altyd en altyd, die septer van u heerskappy is 'n regverdige septer.
8
U het •geregtigheid lief en u haat goddeloosheid. Daarom, o goddelike wese, het u God u met olie van vreugde gesalf – meer as u metgeselle.
9
Na mirre, adelhout en wildekaneel ruik al u klere; uit paleise van ivoor maak snaarinstrumente u bly.
10
Die dogters van konings is versier met u juwele; aan u •regterkant staan die koningin, getooi in goud uit Ofir.
11
Luister, dogter, kyk en gee aandag! Vergeet jou volk en die huis van jou vader.
12
Dan sal die koning jou skoonheid onweerstaanbaar vind; want hy is jou heer en jy moet laag voor hom buig.
13
Dogter van Tirus, met geskenke sal die rykes van die volk jou guns soek.
14
In volle glorie wag die dogter van 'n koning binne, in haar uitrusting van goudbrokaat.
15
In veelkleurig geweefde klere word sy na die koning gebring; jongmeisies, haar vriendinne, is haar gevolg, hulle word vir u ingebring.
16
Met vreugderoepe en gejuig word hulle binnegelei, gaan hulle die koninklike troonsaal binne.
17
U seuns sal die plekke van u vaders inneem, u sal hulle as •hoë amptenare aanstel in die hele land.
18
Ek wil sorg dat u naam bekend bly deur alle geslagte heen, daarom sal mense u prys vir altyd en altyd.
← Chapter 44
Chapter 46 →