bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
/
Psalms 39
Psalms 39
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
1
Vir die •musiekleier. Vir Jedoetoen. 'n Psalm. Van Dawid.
2
Ek het my voorgeneem om te let op my optrede en my tong van sonde te weerhou; ek moet 'n wag voor my mond plaas wanneer goddeloses in my teenwoordigheid is.
3
Ek het toe stilgebly, doodstil; ek was stil sonder om 'n woord te sê, maar my pyn het vererger.
4
My hart het gegloei in my binneste; toe ek gesug het, het die vuur opgevlam, my tong het los geraak:
5
“ Here, maak my einde aan my bekend en die getal van my dae, hoeveel dit is. Ek wil weet hoe verganklik ek is.
6
Kyk, U het my lewensdae net 'n paar handbreedtes gemaak, en my lewensduur is soos niks voor U. Elke mens wat stewig staan, is 'n blote asemteug.
7
As 'n blote skaduwee gaan mense deur die lewe. Ja, terwyl hulle 'n blote asemteug is, werskaf hulle – mense maak bymekaar, maar weet nie wie dit gaan kry nie.
8
“En nou, wat verwag ek, my Heer? My hoop, op U is dit gevestig.
9
Verlos my van al my oortredings; maak my nie die bespotting van 'n dwaas nie.
10
“Ek bly stil, ek maak my mond nie oop nie, want dit is U wat optree.
11
Neem u teistering van my af weg; onder die krag van u hand vergaan ek.
12
Met straf oor sondeskuld wys U 'n mens tereg; asof 'n mot dit verteer, laat U dit wat vir hom waardevol is, wegsmelt. 'n Blote asemteug is elke mens.
13
“Hoor tog my gebed, Here, en luister na my hulpgeroep; moenie swyg by my trane nie, want 'n •vreemdeling is ek by U, 'n bywoner, soos al my voorgeslagte.
14
Kyk weg van my af sodat ek vrolik kan wees, voordat ek heengaan en nie meer daar is nie.”
← Chapter 38
Chapter 40 →