bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
/
Job 7
Job 7
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
1
“ Is dwangarbeid nie 'n sterfling se lot op aarde nie? Is sy dae nie maar die dae van 'n dagloner nie?
2
Soos 'n slaaf smag hy na skaduwee; soos 'n dagloner wag hy vir sy loon.
3
So het leë maande my erfdeel geword, en is nagte van teenspoed aan my toegewys.
4
As ek gaan lê, dink ek, Wanneer kan ek opstaan? – maar die aand sleur voort. Ek is sat van rusteloos wees, tot die oggendskemer.
5
My liggaam is oortrek van maaiers en 'n kors stof; my vel het verhard en dit bars oop.
6
My dae is vinniger as 'n wewersklos – dit kom tot 'n einde sonder hoop.
7
Dink daaraan dat my lewe maar 'n asem is; my oë sal nie weer iets goeds sien nie.
8
Die oog van die Een wat na my kyk, sal my nie sien nie. U oë sal op my gerig wees, maar ek sal nie daar wees nie.
9
'n Wolk raak tot niet en gaan weg; so is iemand wat na die •doderyk afdaal – hy kom nie weer na bo nie.
10
Hy keer nie weer terug na sy huis nie; sy plek ken hom nie meer nie.
11
“ Op my beurt sal ek my mond nie hou nie. Ek wil praat uit die benoudheid van my gees; ek wil kla uit die bitterheid van my siel!
12
Is ek die see of 'n seemonster, dat U 'n wag oor my aanstel?
13
As ek dink my slaapbank sal my troos, my slaapplek sal my klagte help verlig,
14
dan verskrik U my deur drome, deur naggesigte ontstel U my,
15
sodat ek versmoring verkies, die dood verkies bo hierdie liggaam van my.
16
Ek gee oor; ek sal nie vir altyd leef nie. Laat my met rus, want my dae is net 'n asemteug!
17
“ Wat is 'n sterfling, dat U hom so belangrik ag, dat U aan hom aandag gee,
18
hom elke môre besoek, hom elke oomblik toets?
19
Hoe lank nog gaan U nie van my af wegkyk nie, gaan U my nie alleen laat nie – net tot ek my speeksel ingesluk het?
20
Het ek gesondig? Wat het ek U aangedoen, Bewaker van mense? Waarom stel U my as 'n teiken vir U op? Het ek vir U 'n las geword?
21
Waarom vergewe U nie my oortreding nie, skeld U nie my sondeskuld kwyt nie? Want binnekort sal ek in die stof lê; U sal op die uitkyk wees vir my, maar ek sal nie daar wees nie.”
← Chapter 6
Chapter 8 →