bible
ra
🌐 Language
English
Español
Français
Deutsch
Português
Italiano
Nederlands
Русский
中文
日本語
한국어
العربية
Türkçe
Tiếng Việt
ไทย
Indonesia
All Languages
Home
/
Afrikaans
/
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
/
Isaiah 31
Isaiah 31
Afrikaans 2020 (Die Bybel 2020-vertaling)
1
Wee hulle wat na Egipte afgaan vir hulp, wat op perde staatmaak, hulle vertroue plaas op strydwaens, omdat daar baie is, en op perderuiters, omdat hulle besonder talryk is. Maar hulle sien nie op na die Heilige van Israel nie; hulle raadpleeg nie die Here nie.
2
Maar ook Hy is wys, en Hy bring onheil; sy woorde herroep Hy nie. Hy sal optree teen 'n huis van boosdoeners, en teen die hulp van hulle wat onreg pleeg.
3
Die Egiptenare is mense, nie God nie; hulle perde is vlees en nie gees nie. En die Here – as Hy sy hand uitstrek, struikel die helper, val dié een wat gehelp word; saam gaan hulle almal tot niet.
4
Ja, so het die Here vir my gesê: “Soos 'n leeu grom, 'n jong leeu by sy prooi – al word 'n hele groep herders teen hom saamgeroep, vir hulle geskreeu word hy nie bang nie, en vir hulle geraas krimp hy nie ineen nie – so sal die Here, Heerser oor alle magte, neerdaal om te veg op die berg Sion, op die Sionsheuwel.
5
Soos voëls bo hulle neste hang, so sal die Here, Heerser oor alle magte, Jerusalem beskerm. Hy sal beskerm en uitred, spaar en laat ontkom.
6
“Keer terug na Hom, teen wie die Israeliete uiters onversetlik was.
7
Ja, op daardie dag sal elkeen sy nuttelose afgodsbeelde van silwer en goud verwerp, die beelde wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het.
8
Assirië sal val deur die swaard, maar nie dié van 'n man nie; en 'n swaard, nie dié van 'n mens nie, sal hom verteer. Hy sal vir sy lewe vlug voor die swaard, en sy jong manne sal dwangarbeid verrig.
9
Sy rots sal vanweë ontsetting vergaan, sy •aanvoerders sal angsbevange wees by die sien van 'n banier. ” Dit is die uitspraak van die Here, wie se vuur in Sion, en wie se oond in Jerusalem is.
← Chapter 30
Chapter 32 →